Die onmisbare rol van vitamien A in veeproduksie

Die onmisbare rol van vitamien A in veeproduksie
Vitamin a

Vitamien A is een van die belangrikste mikronutriënte in die voeding van herkouers. Hierdie vetoplosbare vitamien, wat hoofsaaklik in die lewer gestoor word, speel ’n sentrale rol in immuniteit, voortplanting, slymvliesintegriteit, beensintese en sig. Aangesien beeste en skape nie self vitamien A kan vervaardig nie, moet hulle dit deur middel van betakaroteen bekom. Dit is ’n plantpigment wat in die dunderm omgeskakel word na aktiewe vitamien A (retinol).

Diere wat op groenweiding wei, ontvang genoegsame beta-karoteen, veral gedurende die lente en vroeë somer. In die winter of onder droogtetoestande verloor plante hul groenigheid en bevat bykans geen beta-karoteen nie. Dit stel vee bloot aan ’n hoë risiko vir vitamien A-tekorte, veral as hulle afhanklik is van droë hooi of graangebaseerde rantsoene.

Vitamien A-reserwes in die lewer kan vir ’n beperkte tydperk tekorte balanseer. Wanneer hierdie reserwes uitgeput is, begin kliniese tekens van ‘n tekort voorkom.

Belangrikheid van vitamien A

Vitamien A is betrokke by verskeie noodsaaklike prosesse:

  • Immuunfunksie: Ondersteun die produksie van witbloedselle en teenliggame. ’n Vitamien A-tekort verlaag die diere se vermoë om infeksies te beveg, veral longontsteking en mastitis.
  • Sig: Is noodsaaklik vir die produksie van rodopsien in die retina. ’n Gebrek aan vitamien A lei tot nagblindheid en verhoogde vatbaarheid vir ooginfeksies.
  • Vel- en slymvliesgesondheid: Vitamien A behou die integriteit van die respiratoriese, spysverterings- en voortplantingskanale. Tekorte lei tot keratinisering en verhoogde vatbaarheid vir infeksies.
  • Voortplanting: Bevorder semengehalte in manlike diere, ovulasie en dragtigheid by vroulike diere, asook die ontwikkeling van gesonde embrio’s.
  • Beengroei: Is belangrik vir groeiende kalwers en lammers, aangesien ’n tekort nadelig kan wees vir skeletontwikkeling.

Wanneer moet ons aanvul?

Begin aanvulling twee maande nadat die gras geel begin raak. Gebruik inspuitbare produkte elke twee maande, totdat goeie groenweiding weer beskikbaar is. Diere wat hoë-konsentraat diëte in voerkrale ontvang, het ’n swakker vermoë om beta-karoteen in die dunderm om te skakel en benodig dus aanvulling. Die behoefte aan vitamien A is hoër gedurende laatdragtigheid. Voldoende vitamien A verminder die voorkoms van mastitis, longontsteking, plasenta-retensie en geboortedefekte.

Kalwers en lammers word met lae vitamien A-vlakke gebore en maak staat op genoegsame vitamien A vlakke in biesmelk. Lae-vet en proteïenrantsoene belemmer ook vitamienmetabolisme en verhoog die risiko van tekorte.

Diagnostiek en kuddebestuur

In kommersiële stelsels kan bloedtoetse vir retinol of lewermonsters gebruik word om subkliniese tekorte op te spoor – veral in melkstalle of voerkrale met hoë produksieverwagtinge. Produsente kan vitamien A ook strategies saam met mikrominerale aanvul, vier weke voor die dekseisoen, vier weke voor die kalfseisoen, gedurende speen en by aankoms in voerkrale. Aanvullings wat saam met inenting toegedien word, verhoog ook die immuunrespons teenoor die inenting.

As gevolg van hul kleiner lewers en laer beta-karoteenopname, is skape meer vatbaar vir tekorte as beeste. Bokke toon soms meer weerstand in droë toestande, maar aanvulling is steeds belangrik in
intensiewe stelsels.

Tekens van tekorte

Tekorte is meer uitgesproke by jong, groeiende diere, maar kan hulle op enige ouderdom affekteer. Algemene tekens sluit in:

  • Verminderde eetlus en gewigsverlies.
  • Growwe, dowwe haarkleed, haarverlies en ’n droë, skurwe vel.
  • Nagblindheid, ooginfeksies en oormatige trane.
  • Swakker immuniteit en hoër vatbaarheid vir siektes.
  • Swak konsepsiesyfers, aborsies en stilgeboortes.
  • Retensie van die plasenta ná kalwing.
  • Swak biesmelkproduksie en lae immunoglobuliene.
  • Misvormde of swak-gebore kalwers/lammers.

Beskikbaarheid van vitamien A

Beta-karoteen in voer word onder direkte sonlig afgebreek. Berg dus hooi en kuilvoer weg van lig. Sink, yster en vitamien E beïnvloed die benutting van vitamien A positief of negatief. Oordosering met sintetiese vitamien A kan toksies wees. Hoewel dit min voorkom, kan dit lei tot anoreksie, lewerskade en droë, verdikte vel. Volg die dosis aanbevelings noukeurig.

Gevolgtrekking.

Vitamien A is nie net ’n aanvulling nie – dit is ’n strategiese voedingsinstrument. Dit speel ’n sentrale rol in voortplanting, immuniteit, ontwikkeling en algehele kuddegesondheid. Deur seisoenale veranderinge, voedingstoestande en produksiefases in ag te neem, kan produsente hul vee se gesondheid en prestasie optimaliseer. Proaktiewe aanvulling voorkom nie net siektes nie, maar verhoog winsgewendheid, die lewensgehalte van die diere, en uiteindelik die volhoubaarheid van jou boerdery. –

Oorspronklike artikel deur Dr Johann Stadler

Dankie aan Plaas Media vir die vergunning om artikel te plaas.

Share:

More Posts

Embedded asset

Drie Dae Stywe Siekte

Drie Dae Stywe Siekte is ’n insekoorgedraagde, nie-aansteeklike virussiekte van beeste en waterbuffels wat in Afrika, die Midde-Ooste, Australië en Asië voorkom. Onopvallende infeksies kan

Join Our WhatsApp Group

Please kindly complete the below form, so we can verify and ensure you are subscribed to the correct WhatsApp Group.

By Clicking Submit, You Allow Morvet to Automatically Add You to Our WhatsApp Group Based Off Of the Information Provided.