Dit word veroorsaak deur ’n pox virus wat permanente huidskade en skerp dalings in die vrugbaarheid en produktiwiteit van die kudde veroorsaak.
Hoe kan jou beeste knopvelsiekte kry?
Daar word vermoed dat die siekte hoofsaaklik deur bytende insekte soos stalvlieë oorgedra word, en kan die siekte dus oor ’n groot gebied versprei vanaf ’n enkele besmette dier.
Die meeste gevalle kom gedurende laat somer en vroeë herfs voor, gewoonlik tydens jare van bo-gemiddelde reënval.
Binne-in kuddes versprei die siekte ook waar diere drink- en voerbakke deel, deurdat besmette diere se speekselafskeiding in die voerbakke beland. Koeie skei die virus deur die melk uit en kan hul kalwers ook só besmet.
Die mens kan ook die siekte versprei deur besmette naalde tussen beeste te deel, indien daar geënt word tydens uitbreke, of deur beeste kunsmatig te insemineer met besmette semen.
Watter diere is vatbaar vir die siekte?
Alle ongeënte beesrasse is vatbaar, en tussen 3% en 85% van ’n kudde kan geaffekteer word.
Kalwers van ongeënte koeie is ook vatbaar, maar kalwers van koeie wat geënt is word beskerm tot op ongeveer 6 maande.
Sover as wat vasgestel kon word speel wilde diere nie ’n betekenisvolle rol in die verspreiding van hierdie siekte nie.
Watter tekens sien ons met knopvelsiekte?
Beeste ontwikkel eers ’n koors en wys tekens soos verhoogde speeksel-, traan- en neusafskeidings.
Soms kan daar ook bindvliesontsteking (konjunktivitis) in die oog en vergrote limfknope op die lyf voorkom.
Daarna begin die bees ’n knopuitslag van ongeveer 1 tot 5 cm in deursnit op die vel kry.
Op korthaar beeste kan hierdie knoppe veral prominent vertoon en is gewoonlik oor die hele lyf teenwoordig.
Letsels strek soms dieper as net die vel en kan tot in die pees-/seningskedes op die bene strek waar dit dan ook mankheid en onderhuidse wateraansameling (edeem) veroorsaak.
Verswering van die bek, lugpyp en pens kan ook voorkom.
Sekondêre longontsteking kan ’n nagevolg wees in gevalle waar lugwegverswering plaasvind.
Letsels kom ook op die skrotum en peester voor, en kan lei tot ontsteking van die testes wat weer tydelike of selfs permanente onvrugbaarheid veroorsaak.
Speenletsels lei dikwels tot mastitis en gevolglike verlies aan uierfunksie.
Skerp dalings (tot 50%) in melkproduksie kan verwag word in koeie met knopvelsiekte.
Behandeling
Behandeling is slegs simptomaties, en dit is baie beter om eerder die siekte te voorkom (sien hieronder).
Simptomatiese behandeling hang af van hoe erg ’n bees geaffekteer is en sluit rehidrasie, anti-inflammatoriese middels en antibiotika in.
Melksalf/agriflavien-gliserien kan ook oor letsels gesmeer word indien dit versweer.
Is daar ander siektes wat soos knopvelsiekte lyk?
Ja; die belangrikste hiervan is skynknopvelsiekte (Pseudo-lumpy skin disease).
’n Veearts kan in samewerking met ’n laboratorium jou help om te onderskei tussen die siektes.
Hoe voorkom mens hierdie siekte?
Beheer is eerstens deur enting.
Beheer van bytende insekte soos steekvlieë kan ook help om verspreiding te beperk.
Vatbare diere moet jaarliks geënt word, verkieslik in die lente voor insekpopulasies drasties toeneem.
Omdat die entstof ’n lewende (verswakte) entstof is, kan daar ’n tydelike afname in melkproduksie wees in melkbeeste.
Diere jonger as 6 maande van geënte koeie moet nie geënt word nie, terwyl kalwers gebore van ongeënte koeie so vinnig moontlik geënt moet word.
Dragtige koeie kan ook geënt word met **LUMPYVAX®**.
Omdat siekte-uitbreke in siklusse van ’n paar jaar kan plaasvind, is sommige produsente geneig om op te hou ent gedurende die “goeie jare”.
Die gevolg is dat groot dele van die nasionale kudde onbeskermd gelaat word wat tot massiewe uitbreke kan lei, dikwels met ’n tekort aan entstof gedurende sulke tye as gevolg van laer entstofproduksie in die vorige jare²˒⁷.
Beplan dus vooruit en moenie onverhoeds betrap word nie.
Kan diere steeds knopvelsiekte kry na enting?
Dit is moontlik dat daar steeds gevalle van knopvelsiekte in ’n geënte kudde kan voorkom, maar dit is meer dikwels as nie die gevolg van sekondêre redes:
- Indien diere alreeds die siekte inkubeer tydens enting (soos wat dikwels die geval is wanneer ’n produsent eers ent wanneer sommige diere simptome toon).
- Onbehoorlike entstofhantering (bv. verbreking van die koue-ketting vanaf die verskaffer tot by die dier, blootstelling aan sonlig, entstof wat vries in die yskas, vervaldatum wat verstrek en klaar opgemaakte entstof wat nie dadelik gebruik word nie).
- Verkeerde toediening van entstof (bv. naald steek per ongeluk reg deur vel en nie onder die vel nie of verkeerde dosis word gebruik).
- Enting van kalwers gebore by beskermde koeie voor 6 maande ouderdom.
- In enige populasie diere is daar ’n baie klein persentasie individue wat nie ’n goeie immuniteit opbou ten spyte van enting nie. Verder kan baie groot virusladings (baie hoë besmetting) sommige diere se immuunstelsel oorweldig⁸.
- Jaarlikse enting word aanbeveel; indien nie is dit moontlik dat sommige diere hul immuniteit kan verloor.
Wegneemboodskap
Knopvelsiekte kan ’n ekonomiese verwoestende siekte wees, maar kan voorkom word indien entings jaarliks en korrek gedoen word.
Produkinligting
LUMPYVAX®, G3673 (Wet 36/1947)
Elke 1 ml dosis bevat 10⁴ TCID₅₀ gevriesdroogde, lewendige, verswakte virus (SIS Neethling-tipe).
Vir meer inligting, of indien u enige bekommernisse het of hulp benodig met siektevoorkoming, behandelingsprotokolle, of die keuse van die regte produkte, moet asseblief nie huiwer om ons plaaslike veearts, Dr. Izak van Rensburg, te kontak nie:
WhatsApp: 081 031 4694
Email: izakjvr@hotmail.com


