Inleiding
Knopvelsiekte is een van die belangrikste erosiesiektes by beeste en alle ouderdomsgroepe word aangetas. Uitbreke van knopvelsiekte veroorsaak duisende rande se verliese vir veral die melkboer. Knopvelsiekte kan doeltreffend voorkom en beheer word deur gereelde jaarlikse inenting van die diere. Die virus tas alle beesrasse aan, maar die sigbare tekens is die opvallendste by melkbeeste soos Friese/Holsteins en Jerseys wat ‘n dun vel het.. Knopvelsiekte is ‘n erge (akute), milde (subakute) of onopvallende virussiekte van beeste. Die siekte word gekenmerk deur koors, veelvuldige ferm knoppe in die vel, letsels in die slymvliese van die bek en lugweë. Die siekte word deur ‘n pokkevirus (Neethlingstam) veroorsaak. Knopvelsiekte kom wydverspreid in Suider-Afrika voor.
Knopvelsiekte is ‘n ekonomies belangrike siekte
Met ‘n uitbreek van knopvelsiekte word tussen 1 en 20% van die beeste op ‘n plaas of van ‘n trop gewoonlik aangetas. Soms kan tot 100% van die diere in ‘n kudde/trop aangetas word. Knopvelsiekte veroorsaak groot ekonomiese verliese alhoewel daar gewoonlik nie meer as 3% van die siek diere vrek nie. Vrektes a.g.v. knopvelsiekte kan wissel van nul tot 40% van ‘n kudde. Siek diere vermaer, hulle melkproduksie daal dramaties, soms staak die koeie melkproduksie, vrugbaarheid in koeie en bulle word benadeel, aborsies kan voorkom en die vel van die dier word permanent aangetas. Erg aangetaste diere moet soms van kant gemaak word want volkome herstel is te betwyfel. Met die uitbreek van knopvelsiekte by melk- en vleisbeeste kan die eienaar duisende rande se verliese ly.
Oordraging en verspreiding van knopvelsiekte
Knopvelsiekte kom meesal sporadies voor, maar sommige jare versprei dit vinnig en word dit ‘n epidemie. Soms word koeie lig aangetas, maar hulle kalwers word ernstig siek met tipiese knopvelsiekte letsels. Daar word vermoed dat bytende insekte ‘n belangrike rol speel en hulle aanvanklik die siekte/virus oordra na beeste. Na die uitbreek van knopvelsiekte op ‘n plaas word die virus van besmette beeste na vatbare diere oorgedra deur direkte kontak.
Die virus kom voor in speeksel en velletsels van siek diere en die siekte versprei dan deur direkte kontak, veral deur gesamentlike drink- en kosbakke. Sommige aangetaste diere ontwikkel geen kliniese tekens nie, maar versprei nogtans die virus deur middel van hulle speeksel. Die siekte (virus) kan ook deur die melk na kalwers wat suip oorgedra word. Die verspreiding van knopvelsiekte volg baie keer die paaie, treinspoorverbindings en beweegroetes van besmette en siek diere. Daar is ‘n moontlikheid dat skape draers kan wees van die knopvelsiekte virus.
Wanneer knopvelsiekte voorkom
Knopvelsiekte kom gewoonlik gedurende nat somer- en herfsmaande voor veral by diere wat in laagliggende en waterryke areas wei, maar uitbreke kan ook gedurende ‘n droë seisoen voorkom.
Siektetekens
Die inkubasietydperk (broeitydperk) is ongeveer 7 dae. Daarna volg ‘n koorsreaksie van 4-14 dae in twee fases. Gedurende die tyd kan die dier ‘n slym etterige neusuitloopsel, verhoogde speekselvoei en verminderde eetlus toon. Die tipiese opgehewe knoppe in die vel (5-10 mm in deursnee) verskyn net voor of tydens die tweede koorsfase. Die dier se oë raak ontsteek met ‘n afskeiding/traanvloei. Die knoppe is diepliggend en tas die vel en onderhuidse weefsel en dikwels selfs die onderliggende spier aan. Die hoeveelheid knoppe kan wissel van ‘n paar tot honderde oor die hele liggaam van die dier. Lakterende koeie se melkproduksie daal dramaties of staak soms tydelik of permanent. Bulle kan onvrugbaar raak en die huid (vel) raak beskadig. Dragtige koeie met erge knopvelsiekte kan aborteer.
Wanneer die dier herstel, kan die knoppe vinnig opklaar, of verhard en dan vir ‘n paar maande in die vorm van harde bulte op die vel sigbaar bly. Soms skilfer hulle vroeg af en vorm rou, etterige sere (ulkusse) en absesse. Sagte, geelgrys ulkusse kom ook soms in die slymvliese van die bek, neus, asemhalingskanaal, voormae en geslagsdele voor. Onderhuidse swelling aan die ledemate kan voorkom en word dikwels foutiewelik gediagnoseer as slangbyt. Die swelling van die bene veroorsaak soms mankheid of verlamming van die been. Longontsteking kan ontstaan a.g.v. sekondêre besmetting. Weke of maande na die siekte word die lugpyp soms vernou (stenose) en sulke diere haal moeilik asem.
Diagnose
Gewoonlik word die diagnose gemaak op die tipiese letsels en siektetekens veroorsaak deur knopvelsiekte. Virusse kan van die velletsels gekweek word vir bevestiging
Onderskei knopvelsiekte van ander siektes
Knopvelsiekte se slymvliesletsels moet onderskei word van die slymvliesletsels wat veroorsaak word deur runderpes, beesvirusdiarree (BVD), mukosasiekte en snotsiekte. Die velletsels van knopvelsiekte moet onderskei word van velletsels wat veroorsaak word deur insekbyte, skurfte of brandsiek (Demodex-besmetting) en olifantvelsiekte (besnoitiose).
Voorkoming en beheer
Omdat insekte die hoofrol speel in die oordraging van die siekte, is die voorkoming deur kwarantyn maatreëls en beperkings op die beweging van diere nie baie suksesvol nie. Siek diere moet beslis afgesonder word en nie dieselfde voerkrippe en waterbakke as gesonde diere gebruik nie, want siek diere se speeksel en velletsels is besmet met die virus. Siek bulle se semen is ook met die virus besmet.
Ent alle diere ouer as 6 maande jaarliks gedurende die lente teen knopvelsiekte. Dit is veilig om dragtige koeie te ent. Alle diere moet jaarliks geënt word. Enting van diere gedurende ‘n uitbreek van knopvelsiekte kan die siekte versprei indien daar nie ‘n aparte naald vir elke dier gebruik word nie. Kalwers van vatbare ongeënte koeie jonger as 6 maande het nie ‘n beskermende kolostrumimmuniteit verkry nie en hulle moet so gou moontlik geënt word as knopvelsiekte ‘n probleem in die area is. Immuniteit by geënte diere begin ontwikkel ongeveer 10 dae na inenting en is volledig na 3 weke. Verseker dat die entstof nie aan lig blootgestel word nie, want die ultraviolet strale sal dit onaktief maak. Immuniteit is gewoonlik baie goed na inenting. Alhoewel party beeste ‘n natuurlike weerstand het teen knopvelsiekte, ontwikkel hulle nie teenliggame na inenting nie en dit blyk dat hierdie diere se kalwers nie ‘n biesmelkimmuniteit ontwikkel nie en vatbaar is vir knopvelsiekte.
Behandeling
Raadpleeg ‘n veearts. Voorsien simptomatiese behandeling en goeie versorging. Gee antibiotika om sekondêre besmettings te voorkom. Voorkomende enting van die diere is van uiterste belang om knopvelsiekte te beheer, veral na die toename van knopvelsiekte die afgelope jare.
Vir meer inligting, of indien u enige bekommernisse het of hulp benodig met siektevoorkoming, behandelingsprotokolle, of die keuse van die regte produkte, moet asseblief nie huiwer om ons plaaslike veearts, Dr. Izak van Rensburg, te kontak nie:
WhatsApp: 081 031 4694
Email: izakjvr@hotmail.com
Oorspronklike artikel geskryf deur Dr. Faffa Malan en Dr. Jan du Preez

