Speentyd is “oestyd” by ‘n kommersiële vleisbees boerdery. Ons behoort alles in ons vermoë te doen om hierdie aksie so glad as moontlik te laat verloop en die bes moontlike prys vir die kalwers te beding.
Een van die eerste aksies wat geneem moet word in aanloop tot speentyd, is om vroegtydig die moontlike bemarkingsopsies te oorweeg. Die belangrikste aspekte om te oorweeg is die verwagte speenkalf prys en die voer-:vleisprys verhouding. Aangesien mielies (of “hominy chop”) die grootste komponent en koste van ‘n voerkraalrantsoen uitmaak, is dit in wese die mielie-:slagprys verhouding. Om winsgewend te kan voer, is die duim reël dat 1 kg vleis ten minste 14 kg mielies moet kan aankoop. ’n Mielie-:vleisprys verhouding van meer as 14:1 is dus gewens. Indien die verwagte speenkalfprys nie baie gunstig is nie maar die mielie-/slagprys wel, kan oorweeg word om kalwers self af te rond – indien die ander hulpbronne beskikbaar is.
Indien kalwers aan voerkrale bemark word of op ‘n veiling verkoop word, is dit belangrik dat die kalwers so “aantreklik” moontlik vir die aankopers moet wees. Gesonde, sterk en eenvormige kalwers in terme van ras, geslag, kondisie en gewig, sal altyd die oog vang. Indien die kalwers vooraf ingeënt is teen siektes wat algemeen in die voerkrale voorkom, kan ‘n premie beding word.
Die optimale speengewig van kalwers is ook altyd ‘n punt van bespreking. Dit is so dat ligter kalwers se prys per kilogram liggaamsmassa hoër is as die van swaarder kalwers. Dit beteken egter nie om kalwers ligter te bemark, noodwendig te beste opsie (winsgewendste) is nie. Daar is baie faktore wat in ag geneem moet word wat ‘n produsent se besluit kan beïnvloed. In die meeste gevalle klop gewig, prys. Maar dan moet ‘n mens die kondisie van die koeie in ag neem, asook die kwaliteit en beskikbaarheid van die weiding, asook die ekstra koste verbonde aan lekinname en behandeling van parasiete as kalwers later gespeen word. Alhoewel kalwers teen speentyd nie meer baie van die koei se melk afhanklik is nie, sal koeie wat langer laat soog, meer kondisie verloor as die wat reeds gespeen is. Dit kan weer negatief inwerk op die kondisie van die koeie met kalf. Die koste daaraan verbonde om die koeie se kondisie deur die winter reg te stel vir kalftyd moet ook verdiskonteer word. Aangesien elke plaas se omstandighede en hulpbronne verskil, is daar nie ‘n algemene aanbeveling rondom die “beste” speengewig nie en moet elke situasie op eie meriete hanteer word.
Die tyd van die jaar wanneer kalwers bemark word speel ook ‘n rol. Indien kalwers voor die aanvang van hoof bemarkingseisoen, wat van ongeveer Maart tot Junie duur, bemark word, kan beter pryse verwag word aangesien daar minder kalwers in die mark is as gedurende piekseisoen. Vrae om te beantwoord: Wat is die koste daaraan verbonde om koeie vroeër te laat kalf (in moontlik minder gunstige voedings-/klimaatsomstandighede omstandighede), net om vroeër te kan speen? Is dit die moeite werd om kalwers ligter te speen om ‘n beter prys per kilogram te beding?
Dit is dus duidelik dat, om die meeste uit die kalweroes te kry, die speen proses baie meer behels as om net die kalwers van die koeie te skei!
Voeding en Kondisie
As hulle goed lyk, sal hulle goed verkoop!
Ongelukkig kan die voeding en kondisie van kalwers nie kort voor speentyd aangepas word om kits resultate te verwag nie. Daar is aspekte van voeding en kondisie wat wel belangrik is en ‘n rol kan speel in die verwagte verkoopprys van kalwers. Daarom is dit van uiterste belang dat die voeding van kalwers vroegtydig aandag moet geniet om teen speentyd in ‘n ideale kondisie te wees. Selfs al word kalwers self afgerond, gaan voeding en kondisie van die kalwers met speen, dieselfde invloed hê op sukses as wat vir die voerkrale geld.
Die meeste voerkrale soek ‘n groot raam kalf in ‘n goeie kondisie (nie vet nie), wat goed in die voerkraal kan aanpas en die potensiaal het om baie vleis aan te sit (goeie GDT oor ‘n langer tydperk). Dit beteken dat kalwers vanaf geboorte teen ‘n bestendige tempo moet groei om ‘n goeie raam te ontwikkel. Kalwers van laatryp rasse is normaalweg gewild by voerkrale weens hulle vermoë om langer/swaarder gevoer te kan word voordat hulle slag kondisie bereik. Maar, dit is nie altyd in die beste belang van boere om oral met sulke rasse te boer nie – ‘n bespreking vir ‘n ander dag!
Indien kalwers na speen in ‘n kraal gehou word, moet seker gemaak word dat goeie kwaliteit hooi en vars drinkwater te alle tye beskikbaar is. Kalwers wat gewoond is om uit krippe/lekbakke te eet, sal ook vinniger in die voerkraal aanpas. Alhoewel dit nie altyd prakties is nie, kan deur kalwers na speen eers gewoond te maak aan voerkraal omstandighede (conditioning), ook beter pryse beding word.
Enting
Die toediening van entstowwe is soos die uitneem van versekering. Kalwers behoort reeds voor speentyd ten minste ‘n spons-, lam- en miltsiekte inenting asook die skraagdosis van spons- en lamsiekte gehad het.
Die verskalwers (veral die wat terug gehou word as vervangings verse), moet verkieslik voorspeen geënt word teen besmetlike misgeboorte (BM) indien die S19 entstof gebruik word (voor 8 maande ouderdom). Indien die RB51 entstof gebruik word, kan die verse so gou doenlik naspeen geënt word. (Om die bes moontlike beskerming te kry, behoort RB51 nog twee keer naspeen herhaal te word voordat die verse by die bul kom).
Daar is ook ander entstowwe wat voorspeen toegedien kan word, veral indien die plaaslike toestande of die voerkraal aan wie die kalwers verkoop word dit vereis en ‘n premie op die speenkalfprys beding kan word. Kalwers wat vir die voerkraal voorberei word deur spesifieke inentings voor speen te doen, is minder geneig om siek te word in die voerkraal. Gesonde kalwers begin vinniger te vreet en het ‘n beter voerinname – alles faktore wat voordelig vir die voerkraal is.
BVD, IBR, PI₃, BRSV en Pasteurella is waarskynlik die belangrikste asemhalingverwante siektes waarvoor ingeënt kan word. Wanneer kalwers baie bulk en in droë en stowwerige omstandighede gespeen word, speenstres ervaar en ‘n lae voerinname het – verhoog die kanse op die voorkoms van asemhalingverwante siektes. Indien produsente ‘n goeie verhouding met voerkraal aankopers het, kan ‘n premie beding word indien bewys gelewer kan word dat hierdie “ekstra” inentings voor speen gedoen is.
Spoormineraalaanvulling
Tydens strestoestande word adrenalien/kortisol afgeskei wat die immuunsisteem van kalwers onder druk kan plaas. Dit kan daartoe lei dat die kalwers makliker siek word. Spoorminerale speel ‘n geweldige belangrike rol in die instandhouding van die immuunsisteem en om die potensiële skade van oksidatiewe stres te verminder.
Oksidatiewe tres is ‘n toestand wat ontstaan wanneer daar ‘n wanbalans ontwikkel tussen die vorming van skadeveroorsakende vryradikale (‘n natuurlike proses wat versnel tydens strestoestande), en die vorming van anti-oksidante wat vryradikale moet intoom hou. Baie van hierdie anti-oksidante is spoormineraal afhanklik.
Die aanvulling van inspuitbare spoorminerale tydens inenting is bewys om die effektiwiteit van entstowwe verhoog. Om ‘n immuunreaksie te loods is daar ‘n verhoogde vraag na sekere proteïene wat spoorminerale benodig (sogenaamde akute fase proteïene ). Dit is dus krities dat kalwers met voorspeen inenting of ten minste 4-6 weke voor speen, ‘n bewese inspuitbare spoormineraal-, asook ‘n effektiewe vitamien aanvulling kry vir die beste resultate. ‘n Inspuitbare spoormineraalaanvulling kan ook die aanpassing in die voerkraal vergemaklik, minder siek kalwers tot gevolg hê en tot beter groei lei.
Parasietbeheer – inwendig
Parasietvrye diere presteer die beste!
Kalwers word makliker deur inwendigeparasiete benadeel as volwasse beeste. Speenmassa kan verhoog word indien inwendigeparasiete voorspeen beheer word. Parasietvrye kalwers sal ook speenskok (stres) beter hanteer.
Ons sien selde sterftes by beeste as gevolg van inwendigeparasiete. Dit is soms ook nie so maklik om die negatiewe impak van inwendige parasiete waar te neem nie – veral met rondewurms. Lewerslak en peervormigemaagslak aan die ander kant, kan verwoestende gevolge hê as dit nie betyds behandel word nie. Lintwurm kan ook die groei van kalwers negatief beïnvloed – alhoewel dit meestal op ‘n vroeër ouderdom voorkom. By kalwers wat lig gespeen word (<180 kg) en nie lewenslustig voorkom nie, kan inwendige parasiete nie uitgesluit word as ‘n oorsaak nie.
Lewerslak kan die vermoë van kalwers om in die voerkraal te presteer benadeel. Die lewer is sekerlik die belangrikste orgaan aangesien dit by soveel fisiologiese prosesse in die liggaam betrokke is. In areas waar lewerslak voorkom is dit baie belangrik om doeltreffende lewerslak beheer toe te pas. Alhoewel die inspuitbare produkte wat lewerslak beheer baie gerieflik is om te gebruik, het dit die nadeel dat dit hoofsaaklik – en in sommige gevalle uitsluitlik – net die volwasse stadium van lewerslak beheer. Dit, terwyl die onvolwasse stadium eintlik die meeste skade aanrig. Die vroeë-onvolwasse stadium van lewerslak word tans slegs deur triklabendasool bevattende orale produkte beheer. Terwyl ‘n mens die moeite aangaan om die kalwers oraal te doseer, maak gebruik van die mees effektiewe middel vir die beste resultate – die oksfendasool/triklabendasool kombinasie.
Parasietbeheer – uitwendig
Die negatiewe effekte van uitwendige parasiete is baie meer opvallend as dié van inwendigeparasiete.
Bo en behalwe die feit dat kalwers pararasietvry moet wees as dit verkoop/vervoer word, kan dit ook lei tot mortaliteite as gevolg van bosluisoorgedraagde siektes. Indien kalwers nie bosluisvry is nie, kan die verkoop van kalwers op ‘n veiling geweier word.
Kalwers mag dalk immuniteit ontwikkel het teen rooiwater of galsiekte, maar stres as gevolg van die speen proses, vervoer en verlaagde voerinname, kan hul immuniteit so onderdruk dat hulle siek word – selfs al daar nie ooglopend bosluise op die kalwers nie.
Dit is ook bevind dat die teenwoordigheid van bosluise die eetlus van beeste kan onderdruk. As dit saamval met speen, kan dit die speenstres verder verhoog.
Uitwendige parasiete kan ‘n nadelige uitwerking op bees prestasie hê – van verlaagde voerinname aan die een kant tot vrektes aan die ander kant van die skaal.
Algemeen
Die volgende is ‘n paar algemene opmerkings van belang by die speen proses:
Speen proses self
Die speen proses, maak nie saak watter metode gebruik word nie, plaas geweldige stres op die kalwers. Teen speentyd (±7mnde), is die bydrae van die koei se melk tot die kalf se voeding baie beperk, maar die band tussen die koei en die kalf is nog sterk. Lae-stres speentegnieke word ten sterkste aanbeveel en ondersteun goeie dierewelsyn en siekte voorkoming in pasgespeende kalwers, met gepaardgaande verlaging in die gebruik van antibiotika. Die gebruik van ‘n “2-stadium” speentegniek plaas die minste tres op die kalwers.
Die stelsel wat heel waarskynlik die minste stres veroorsaak is die plasing van “speen neusringe” by die kalwers, terwyl hulle nog saam met die koeie loop. Die neusring maak dit moeilik vir die kalf om te suip, aangesien dit die koei “kielie” as die kalf probeer suip en sy dan nie stilstaan nie. Na ‘n paar dae sal die kalf dan ophou probeer en is die kalf dan gespeen. Neusringe moet ten minste 10 dae voor die beplande speendatum ingesit word en dan weer uitgehaal word op dag van speen. Alhoewel neusringe ‘n kostefaktor het, is dit herbruikbaar. (Die tyd, arbeid, koste vs. verminderde speenskok?)
Met die speentegniek waar kalwers en koeie geskei en in aangrensende kampe loop (met ‘n baie goeie heining tussenin) voordat hulle finaal geskei word, word speenskok ook verminder. Koeie en kalwers kan mekaar dus sien en ruik maar die kalwers kan nie suip nie. Die koeie en kalwers raak relatief vinnig daaraan gewoond en kan dan finaal geskei word.
Die speen proses wat die meeste stres op die kalf plaas, is waar die kalwers direk van die koeie af opgelaai en vervoer word na ‘n veiling, voerkraal of “backrounding” fasiliteit.
Ander metodes soos: om die kalwers in ‘n (goeie) kraal te hou met kos en water totdat hulle ophou om na die koeie te soek (koeie moet verkieslik buite hoorafstand van kalwers geneem word); die “omruil” van koeie en kalwers van verskillende troppe (troppe moet nie binne hoorafstand van mekaar wees nie!); of watter metode ook al die mees praktiese vir die spesifieke omstandighede is, kan ook gebruik word.
Maak nie saak watter metode gebruik word nie, beplan vroegtydig om alles gereed te hê om die speen proses so glad moontlik te laat verloop.
Seleksie van vervangings verse
Dit is belangrik om voor die bemarking dag aanbreek, die verse wat terug gehou wil word vir vervanging te selekteer. Onthou, indien seleksiedruk geplaas word op vrugbaarheid, behoort verse eerstens geselekteer te word van koeie wat self vroeg in die kalfseisoen gekalf het – sonder dat hierdie koeie die vorige kalfseisoen oorgeslaan het!! Indien moontlik, hou ook bietjie meer verse terug as wat benodig word om seleksiedruk op vrugbaarheid met eerste dekking te kan toepas.
Merk van kalwers
Volgens wet, moet kalwers teen 6 maande ouderdom gebrandmerk (of getatoeëer) wees. Hierdie aksie kan ook met van die ander aksies soos inenting en spoormineraalaanvulling gekombineer word om hantering te verminder.
Vir meer inligting, of indien u enige bekommernisse het of hulp benodig met siektevoorkoming, behandelingsprotokolle, of die keuse van die regte produkte, moet asseblief nie huiwer om ons plaaslike veearts, Dr. Izak van Rensburg, te kontak nie:
WhatsApp: 081 031 4694
E-pos: izakjvr@hotmail.com

