Opsommend
- Om volhoubaar te boer is ’n goeie inentingsprogram nodig.
- Inenting is soos versekering.
- Wanneer ons inent, bemagtig ons die dier se immuunstelsel om siektes te beveg.
- Elke produsent moet ’n pasmaakprogram vir sy of haar spesifieke boerdery hê.
- Veetelers wat veerkragtigheid in hul dieregesondheidsprogramme wil inbou, moet dinamies en beweeglik wees.
Dit is nie maklik om volhoubaar te boer nie. Die winsmarges is dikwels so klein dat fyn beplanning nodig is om die boerdery op dreef te hou. Siektes is een van die groot terugslae op ’n veeplaas, maar dit kan in die meeste gevalle voorkom word.
Dr Schabort Froneman, ’n veearts en tegniese bestuurder by Zoetis, sê die belangrikheid van kuddegesondheid kan nie oorbeklemtoon word nie, en om volhoubaar te boer is ’n goeie inentingsprogram nodig.
Inenting is soos versekering
Inenting, sê hy, is soos versekering. Jy betaal ’n premie wanneer jy dit nie nodig het nie, maar as jy dit nodig kry, is jy te dankbaar vir die ‘dekking’. Om te wag totdat die probleem opduik, kan fataal wees vir jou kudde.
“Wanneer ons inent, bemagtig ons die dier se immuunstelsel om siektes te beveg. Dit kan lei tot byvoorbeeld beskerming teen die siekte in die geval van blootstelling, om simptome te ‘versag’ as die dier wel siek word en om die verspreiding van die patogeen of organisme te beperk. Inenting is daarom deel van die kuddegesondheidsprogram; die uiteindelike doel is nie net die beskerming van ’n enkele dier nie, maar van die hele kudde.”
’n Goeie inentingsprogram is egter nie ’n standaarddokument wat lukraak toegepas kan word nie. Elke produsent moet ’n pasmaakprogram vir sy of haar spesifieke boerdery hê. “Elke streek en boerderystelsel het verskillende risiko’s. Kuddebestuurspraktyke (soos intensief teenoor ekstensief), die beskikbaarheid van arbeid, teeldoelwitte en talle ander veranderlikes moet in ag geneem word vir ’n volhoubare inentingsprogram.”
Kry die kundiges om te help
Dr Froneman sê dit is altyd nodig om jou kuddeveearts se hulp in te roep om die inentingsprogram saam te stel, want baie faktore moet in ag geneem word. Dit is ook belangrik om byvoorbeeld jou voedingkundige en entstofverskaffer(s) te betrek, sodat die program aangepas kan word soos omstandighede verander. Die kuddeveearts is egter die sleutelrolspeler in die samestelling van ’n inentingsprogram.
“ ’n Plaas is ’n breë begrip. Faktore soos die plaas se geografiese ligging gaan ’n groot invloed op die samestelling van ’n inentingsprogram hê. Sekere siektes kom net in sekere dele van die land voor en diere moet daarteen ingeënt word. Dit hang ook af van jou boerderystelsel. Is dit ’n koei-kalfstelsel waar kalwers by speen verkoop word of ’n afrondingstelsel waar kalwers ingekoop en weer verkoop word? As ons aanneem dit is eersgenoemde, is daar belangrike stadiums om op te fokus, naamlik voorgeboorte, pasgebore kalwers, voor speen en na speen ten einde terughou verse vir die kudde voor te berei.”
Goeie biesmelk is die anker
Die fetale en neonatale gesondheid van die kudde is die basis waarop kuddegesondheid gebou kan word. Dit behels die gesondheid van die koei vanaf die derde trimester van dragtigheid, tot ses weke ná die geboorte van die kalf.
Goeie voeding en ’n goeie inentingsprogram sal die moeder in staat stel om gesonde kolostrum of biesmelk aan die kalf te gee. Die belangrikheid van biesmelk kan nie oorbeklemtoon word nie; dit beskerm die kalf teen virus- en bakteriële infeksies, en ingewandsiektes soos koksidiose en kriptosporidiose.
Geen teenliggaampies word via die plasenta van die koei na die kalf oorgedra nie, en daarom moet teenliggaampies via biesmelk ingeneem word in die eerste 12 tot 24 uur na geboorte, sodat die kalf immuniteit kan opbou. Jou inentingsprogram voordat die koeie kalf, moet daarop ingestel wees om gesonde en gehalte biesmelk aan die kalwers te gee.
“Baie vleisprodusente kyk dikwels die belangrikheid van biesmelk mis of neem dit as vanselfsprekend aan. As vleisprodusent kan ons verseker dat ons koeie ’n goeie voedingstatus handhaaf en oor voldoende immuniteit beskik (onder andere deur inenting) om te verseker dat die kalwers genoeg hoë-gehalte biesmelk inkry.”
Veerkragtigheid is die sleutel
Om ’n veerkragtige inentingsprogram op jou plaas te implementeer, is dit belangrik dat jou veearts die program by jou plaas se omstandighede laat pas.
“Veerkragtig beteken ruimte vir verandering en beweging. ’n Veer kan uitgerek of inmekaar gedruk wees, maar het steeds die vermoë om terug te keer na sy normale posisie. Veetelers wat veerkragtigheid in hul dieregesondheidsprogramme wil inbou, moet dinamies en beweeglik wees. Vandag is nie gister nie en môre is nie vandag nie. Pas aan soos die omstandighede verander en gebruik goeie kundigheid tot jou beskikking om daardie aanpassings betyds te maak.”
Artikel deur Koos du Pisanie
Baie dankie aan Plaas Media vir die vergunning om artikels te plaas.
Vir meer inligting, of indien u enige bekommernisse het of hulp benodig met siektevoorkoming, behandelingsprotokolle, of die keuse van die regte produkte, moet asseblief nie huiwer om ons plaaslike veearts, Dr. Izak van Rensburg, te kontak nie:
WhatsApp: 081 031 4694
E-pos: izakjvr@hotmail.com

